083 276 5141
Menu
Die Koedoeskop Gemeenskapskerk is ‘n plattelandse gemeente in die hart van die Bosveld. Ons wil graag blom waar ons geplant is, deur  Jesus se liefde op alle terreine uit te dra.
Ons getuienisaksies, uitreiking en sorgbediening, strek tot ver buite die grense van ons gemeente. So probeer ons om werklik kerk van Jesus  Christus te wees.
Ons mikpunt is om genoeg fondse in te samel sodat ons met Koninkrykswerk kan voortgaan en selfs kan uitbrei. Ons gaan ‘n unieke  Bosveldfees aanbied met ‘n wye   verskeidenheid  tipiese  bosveldprodukte en heerlike ontspanning wat nie sommer elders aangetref sal word nie. ‘n Fees wat oud en jonk kan  geniet.
Lees in hierdie uitgawe wat alles  beplan word.
Ons wil graag so veel as moontlik gaste by ons fees betrek. Daarom nooi ons veral besoekers uit die stede om die naweek by ons te kom deurbring.
Na die onlangse goeie reën is die Bosveld so mooi as wat kan wees. Kom kuier die naweek by ons . Kom geniet die heerlike winterklimaat van die Bosveld en die warm gasvryheid van sy mense.
Daar is so ‘n groot verskeidenheid van verblyf beskikbaar in die area dat dit enigiemand se smaak en sak sal pas – wildsplaas-oorde, lodges  woonwaparke en privaat huise.
Ons nooi u: Kom en geniet ‘n   heerlike naweek saam met ons.

Waar hou ons Koedoefees?

Hierdie unieke fees vind plaas in die hartjie van die Suidelike-bosveld op ons kerkterrein plaasvind. 
Hierdie deel van die bosveld is  bekend as die  Bosveld-stollingskompleks en meer soorte grasse, bome, diere en voëls kom hier voor as op enige ander plek in ons land. Die klimaat is baie gematig gedurende die winter met ‘n gemiddelde dag/nag temperatuur van onderskeidelik 20O/10O.
Die gebied is heeltemal Malaria vry. As u nog nie ‘n besoek aan hierdie mooi deel van ons land gebring het nie, wag daar ’n  aangename verrassing op  u.

Wanneer?

Die fees vind gedurende die langnaweek van Junie elke jaar plaas. 
Vrydag en Saterdag word ‘n vol program aangebied met stalletjies, baie eet- en drinkgoed, speletjies, kompetisies, ‘n hele aantal gaskunstenaars, ens.
Sondag sluit ons die fees af met ‘n dankdiens op die terrein.